Historie

Friesland

Lemmer

 

Welkom bij Spanvis.

 

Wie zoekt Wie

Zoekfoto

Genealogie

 


 

Familie geskiedenis in Friesland

 

 
 

Die stamvader van die afstammelinge van Ohrigstad - Lydenburg distrik

Ruurd Willems van der Wal:  (05/08/1825 - 10/01/1871)

www.vanderwal.co.za

 

     Posbus 11786, Aerorand, Middelburg, MP, 1070, Suid-Afrika Email: info@vanderwal.co.za

 

Foto van: Ruurd Willems van der Wal (die stamvader).

 

Ruurd Willems van der Wal kan met reg as die 'stamvader' van die afstammeling van Ohrigstad - Lydenburg distrik beskou word. Die hele VAN DER WAL nageslag het hier in Suid-Afrika ontstaan as gevolg van die VAN DER WAL broers: Willem Ruurd, Jan en Sake van der Wal wat uit Friesland in die laat 1800's na Suid-Afrika toe geimmegreer het. Hulle vader Ruurd Willems is op 'n vroëe ouderdom van 46 jaar oorlede in Friesland. Sy eerste vrou,  Klaaske Jans van den Berg sterf op 25 Augustus 1853 kort na hulle 4de kind se geboorte, Jetske.

Uit die huwelik word 4 kinders gebore, maar slegs 2 oorleef:

1. Ymkjen, gebore op 30 Oktober 1845 in Idaarderadeel, oorlede voor 1846.

2. Ymkjen, gebore op 9 Desember 1846 in Idaarderadeel, oorlede voor 1851.

3. Ymkjen, gebore op 13 Junie 1851 in Idaarderadeel, Friesland.

4. Jetske, gebore op 28 Junie 1853 in Idaarderadeel, Friesland.

In die jaar 1856 tree hy weer in die huwelik met Hendrika Petronella Schelhaas. Uit hierdie huwelik word 5 kinders gebore:

5. Janna, gebore op 16 Junie 1857 in Idaarderadeel, Friesland.

6. Willem Ruurd, gebore op 03 Augustus 1860 in Idaarderadeel, Friesland, immergreer na Suid-Afrika.

7. Jan, gebore op 18 Julie 1862 in Lemsterland, Friesland, immergreer na Suid-Afrika.

8. Sake, gebore op 04 Desember 1864 in Lemsterland, Friesland, immergreer na Suid-Afrika.

9. Jansje, gebore op 07 April 1866 in Lemsterland, Friesland.

Hierdie is vermoedelik die stammoeder van Nederland. Die foto boven is in Amsterdam geneem, en die foto onder op Doornhoek jare later. Die vermoede bestaan dat sy 'n besoek kom aflê het aan haar seuns in Suid-Afrika, te Doornhoek. ('n familielid wat die foto verskaf het, kan onthou toe sy as kind was, aan haar gesê is dat dit haar oumagrootjie is)

Die twee susters Janna en Jansje het in Nederland agter gebly. Jansje is in die huwelik bevestig met Generaal Jan Braggaar. Ruurd Willems se ouers was:  Willem Ruurds van der Wal en was getroud met Ymkjen Sakes Rinsma in die jaar 1824. Volgens rekords het Ruurd Willems 'n broer gehad, Sake gebore op 5 November 1827, wat in die jaar 1858 getroud is met Derkje Jans Grote. So ver as wat vasgestel kon word, is daar een seun in die huwelik gebore: Ruurd,  op 20 November 1859.

Die familie in Nederland

Janna en Jansje, die oudste en die jongste van die vyf kinders (twee susters) het in Nederland agter gebly. Met die koms van die drie broers Willem, Jan en Sake na Suid-Afrika het hulle in kontak met mekaar gebly deur briewe en foto’s vir mekaar aan te stuur. Die foto’s hier onder is so bekom. Ongelukkig is kontak met die familie in Nederland later met tyd verloor weens die afsterwe van familielede in Nederland en in Suid-Afrika. Volgens oorverteling het Janna, die oudste suster geïmmigreer na die VSA.  Daar sal aanhoudend gepoog word om meer navorsing te doen in hierdie verband. Hooplik kan daar weer eendag kontak gemaak word met die nuwe generasie familielede in die verskeie lande.

Jansje, die jongste suster van die familie in Friesland saam met haar man Jan Braggaar en hulle klein-seun Jan te Haarlem (1938)

 

 

Die Braggaar familie met Jansje heel voor.

Die inskripsie agter op die foto lees: Braggaar. S'Gravenhage, Laurierstraat 2, Denhaag.

 

VAN DER WAL afstammelinge van Ohrigstad - Lydenburg distrik

Hierdie afdeling van die VAN DER WAL webwerf word gewy aan die genealogie van Ohrigstad en Lydenburg persone, families en hulle afstammelinge. Die drie VAN DER WAL broers wat vanaf Friesland na Suid-Afrika toe geïmmigreer het, se geskiedenis en hul agtergrond asook afkoms word in hierdie deel gedokumenteer, om dit sodoende vir die nageslag te bewaar.

Die oorspronklike familie geskiedenis in Friesland

'n Hele VAN DER WAL nageslag het hier in Suid-Afrika ontstaan as gevolg van die drie VAN DER WAL broers wat uit Friesland in die laat 1880 / 90's na Suid-Afrika toe geïmmigreer het. Willem Ruurd van der Wal het eerste uit Friesland hier aangekom as 'n Nederlandse onderwyser en is later van tyd in die Ohrigstad vallei op die plaas Doornhoek gevestig. Sy twee broers Jan en Sake van der Wal het 'n paar jaar later hom gevolg uit Friesland, en hier aangekom kort voordat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Vermoedelik het beide eers by Willem ingewoon, waar hulle ook later van tyd hulle in die Ohrigstad distrik gevestig het. Hulle vader Ruurd Willems van der Wal is weer getroud (sy tweede huwelik) met Hendrika Petronella Schelhaas in die jaar 1856.

Foto van: Ruurd Willems van der Wal (05/08/1825 - 10/01/1871) wat as die stamvader beskou kan word. Onder is twee van sy seuns Sake en Jan van der Wal. Die foto is geneem in Amsterdam, Nederland, agterop die foto staan: S v/d Wal en J v/d Wal - 1897. Willem was alreeds 'n geruime tyd in Suid-Afrika.

 

Uit die huwelik is 5 kinders gebore, waarvan die twee susters Janna en Jansje in Nederland agter gebly het. Ruurd Willems is op 'n vroeë ouderdom van 46 jaar oorlede terwyl die drie seuns onderskeidelik 11, 9 en 8 jaar oud was. Hy kan beskou word as die 'stamvader' van die VAN DER WAL nageslag van Ohrigstad / Lydenburg distrik. Daar word ook oorvertel dat hy moontlik soveel as 3 skepe besit het.

Willem Ruurd is gebore in Idaarderadeel - Friesland op 3 Augustus 1860. Hy immigreer na Suid-Afrika in die jaar 1888 (presiese datum kon nog nie vasgestel word nie). Willem was een van die groep Hollandse onderwysers wat deur die President van die Transvaalse Republiek (Z.A.R.) Paul Kruger destyds laat kom het om die onderwys stelsel in die Z.A.R. op standaard te bring. Op 23 April 1897 word Willem ook aangestel as onder kommissaris van Naturelle sake in Sekoekoenieland, distrik Lydenburg.

Hy trou met Sara Susanna Prinsloo (Sarie) en vestig hulle later met tyd op die plaas Doornhoek. Hier bou hy 'n groot klip huis, waarvan die murasie vandag nog daar staan. (met die besoek op die plaas Doornhoek, Maart 2003, is ontdek dat die murasie plat gestoot is deur die nuwe eienaars). Uit hierdie huwelik word twaalf kinders gebore, van die kinders sterf in die Barberton se konsentrasie kamp gedurende die oorlog.

Willem Ruurd van der Wal.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog word hy saam met sy broer Jan deur die Engelse as krygsgevange geneem omdat hulle geweier het om die "eed van getrouheid aan die Britse kroon" te onderteken. Beide word in hegtenis geneem op Doornhoek. Boere krygsgevangenesse wat na oorsee se kampe gestuur was, is na Simonstad vervoer waar hulle daar vanaf vertrek het na Britse kolonies so vêr as Bermuda, St. Helena en Indië. Willem het blykbaar 'n sakboekie gehad waarin hy sketse geteken het van Britse soldate en beelde van gebeurtenisse wat op die eiland afgespeel het waar hy aangehou was. Die mense wat hierdie sketse na die tyd gesien het, sê dit is baie realisties gedoen. Hierdie sakboekie is later glo aan die Museum in Bloemfontein geskenk deur familielede. Na sy vrylating keer hy weer terug na Suid-Afrika op 28 Augustus 1902.

Op 6 November 1902 dien Willem 'n klag by die Koloniale sekretaris se kantoor in dat hy al sy beeste gedurende die oorlog verloor het. Die beeste is later in die besit van hoofman Sjoppiaan gevind. Gedurende 1914 tree Willem uit as die Kommissaris van gereg en vrede.

Willem sterf op 6 April 1936 te Ohrigstad en word op die plaas Doornhoek begrawe.

Meer oor Willem Ruurd van der Wal.  

Die koms van Willem Ruurd van der Wal na Suid-Afrika in die jaar 1888 as 'n ingevoerde Hollandse onderwyser het daarna toe gelei dat sy ander twee broers Jan en Sake hom later gevolg het. Dit wil voorkom of Willem, die oudste van die broers die inisiatief aan die dag gelê het om hom, asook Jan en Sake in Suid-Afrika permanent te kom vestig. En so ontstaan 'n VAN DER WAL nageslag uit Friesland wat nou al in die vierde / vyfde generasie in Suid-Afrika teenwoordig is.

Huweliks foto van Willem Ruurd (sittend) en  Sarie regs van hom - Lydenburg 11/01/1891. Getuienisse: Hendrik Coetzee van Krokodilrivier en Hester de Beer van Sterkspruit, albei vanLydenburg.

 

 

Op die foto v.l.n.r. is Koot, Koba, Sake Sietse, Jan (met pyp in die hand), Willem (sittend), Sarie, Ruurd en Sara. Foto is geneem op Doornhoek voor die huis wat van klip gebou was, in die jaar ongeveer 1903 - 1905.

 

Die volgende is 'n uittreksel wat in Die Kerkbode van 16 September 1936 gepubliseer is:Die opskrif heet: 'n Waardige Ou Vader - 'n herinnering.

 

"Die ou vader, Willem Ruurd van der Wal, van wie ons hier 'n protret plaas, is op 6 April 1936 te Ohrigstad oorlede in die ouderdom van 75 jaar. Hy was 'n Nederlander van geboorte en het vir homself in sy vaderland 'n naam gemaak deur die novelle wat deur hom gepubliseer was onder die skuilnaam "Amicus". In die jaar 1888 het hy na Suid-Afrika gekom en in die Lydenburg, Transvaal, gaan woon. Daar was hy hoof van die Krugerspost-skool, en later was hy assistent van die skool Ohrigstad. Hy het toe ook ageer as sekretaris van die Naturellekommissaris van die Republiek-Lydenburg, vir wyle Mnr. Abel Erasmus. Daarna was hy Assistent-Naturellekommissaris van Sekoekoenieland. Met die Anglo-Boereoorlog is hy as krygsgevangene na Bermuda gestuur, en by sy terugkeer het hy stil gaan woon op sy plaas in die distrik Ohrigstad.

 

Op die portret sien ons die ou vader met sy jongste kleinkind op sy arm, wat ook sy naam dra, en op die voorgrond sy eggenote, Tante Sarie van der Wal.

 

In 'n vorige uitgawe van ons blad het sy leraar. Ds. S.P. Schoeman, van hom as volg geskrywe:

"Deur sy Christelike beginsels, innemende en opgeruimde geaardheid en onwankelbare standvastigheid was hy 'n voorbeeld vir elkeen en alombemind. Hy was 'n steunpilaar van sy Kerk wat hy eers as diaken en later as ouderling trou gedien het. Met reg kan van hom gesê word: "Hy het die goeie stryd gestry, hy het sy loopbaan voleindig, hy het die geloof behou"

Kinders gebore uit die huwelik van: Willem Ruurd van der Wal (03/08/1860 - 06/04/1936) en       

Sara Susanna Prinsloo (03/12/1868 - 23/02/1946) 

Naam

Geboorte datum

Plek van geboorte

Datum van afsterwe

Ouderdom (jare)

Plek van afsterwe / graf

1. Willem Christiaan 19/06/1890 Rietfontein 1898 8 Sekoekoenieland
2. Ruurd Willem 01/11/1891 Krugerspost 03/07/1967 76 Plaas Waterhof, Ohrigstad
3. Jakobus Martinus 06/02/1893 Krugerspost 17/02/1910 17 Plaas Doornhoek, Ohrigstad
4. Sara Susanna 14/12/1895 Krugerspost      
5. Iemkje Jetske 23/06/1897 Krugerspost 1898 1 Sekoekoenieland
6. Hendrika Petronella 28/02/189?   1901 2 Barberton konsentrasie kamp
7. Sake Sietse 30/05/1899 Schoonoord 12/05/1991 92 Voortrekkerbegraafplaas, Ohrigstad
8. Willem Ruurd 26/06/1901 Krugerspost 1901 < 1 Barberton konsentrasie kamp
9. Jan Pieter 26/07/1904 Doornhoek 12/01/1978 74 Voortrekkerbegraafplaas, Ohrigstad
10. Klaas Christiaan 29/07/1906 Doornhoek 20/07/1959 53 Voortrekkerbegraafplaas, Ohrigstad
11. Hendrika Petronella 15/03/1908 Doornhoek 12/03/1984 76 DeGrootboom, Burgersfort
12. Willem Ruurd 13/07/1911 Doornhoek 04/10/2000 89 Pretoria

(3 onbekende klipgrafte is ook op die plaas Doornhoek se familie begraafplaas geleë - moontlik van die bogenoemde kinders wat vroeg oorlede is)

De Roepstem - Paul Kruger en zijn Volk

Foto: Willem Ruurd en sy vrou Sarie, 'n ruk later na hulle huweliksbevestiging.

 

 

Jare later: Willem Ruurd met van sy gesinslede: vlnr: Sara (dogter), Willem, sy vrou tant Sarie en Riek, afgeneem op Doornhoek.

 

 

Foto van Sarie van der Wal waar sy die hoenders, eende, makoue en mak tarentale kos gee. Een van haar dogtertjies is op die voorgrond. Vermoedelik is hierdie foto by die woning in die omgewing van die Krugerspost-skool geneem waar Willem skool gegee het.

 

 

Twee van Willem en Sarie se seuns op muile te Doornhoek, Ruurd en Sake Sietse (van Lekkerhoek) regs.

 

 

Willem met sy rug na die kamera op Doornhoek se plaashuis se stoep saam met familielede en bure (1918)

 

Jan van der Wal.

Jan is gebore in Lemsterland - Friesland op 18 Julie 1862. Op 12 jarige ouderdom verlaat hy sy ouerhuis en begin op 'n skip(skepe) te werk. Sy jong jare as matroos bring hy deur op die oop see, en uit die aard van die saak sien hy baie lande en kontinente regoor die wêreld. Dit bring ook mee dat hy sewe tale kon verstaan en van hulle praat.

Met sy uittrede uit die vloot volg hy Willem na Suid-Afrika. Met die uitbreek van die tweede Anglo-Boereoorlog met Brittanje (1899 - 1902) word Jan saam met sy broer Willem deur die Engelse as krygsgevangene geneem. Hy word saam met ander Boere krygsgevangenisse op een van die agt Bermuda eilande wat in die Atlantiese Oseaan geleë is, 900 km oos van die VSA, en halfpad tussen die Wes-Indiese eilande en Kanada aangehou gedurende hierdie tydperk. Meer as 4600 Boere is daar aangehou sedert Julie 1901.

Die huisvestiging het meestal uit tente bestaan. Met 'n sakmes as primêre gereedskapstuk vervaardig hy heelwat artikels uit hout (sien foto van seilskippie iewers op die webwerf). Een van die artikels is 'n 3-mas seilskip wat vandag in die Lydenburg museum tentoon gestel word. Reeds in Julie en Augustus 1902 na afloop van die oorlog word die eerste Boere krygsgevangenes met transportskepe weer terug na Suid-Afrika gestuur. Met sy vrylating word hy geweier om weer in Suid-Afrika toegelaat te word, omdat hy op daardie stadium nie burgerskap gehad het soos sy broer Willem nie. (Sien brief van Willem aan Jan).

Een van die briewe wat Willem aan Jan geskryf het terwyl Jan in Kaapstad gewag het om die land weer binne te kom na hulle vrylating as krygsgevangenesse.

 

Uiteindelik terug op Suid-Afrikaanse bodem kom vestig hy hom op die plaas Höningnestkrans, nie vêr van Willem Ruurd se plaas Doornhoek af nie. Hy trou met die jong Jacoba Lothering (Koba) wat op 'n tyd by Willem Ruurd-hulle te Doornhoek ingewoon het. Uit die huwelik word 3 seuns en 3 dogters gebore. Hy begin 'n transport besigheid met 'n wa en osse. Hy het ook probeer om 'n boerdery (koring, mielies en boontjies) op die been te bring, maar was nie baie suksesvol nie. Die boerdery is later deur sy oudste seun Ruurd Willem vir 'n tyd behartig na sy Pa se afsterwe. Ruurd se jonger broer, Jan het dikwels vertel hoe hy gedurende ploegtyd elke middag na skool tou leier vir die span osse moes wees, terwyl Ruurd die ploeg hanteer het. Die einste wa en osse is later deur 'n ene Hans Breytenbach kom opeis vir uitstaande skild (vermoedelik grond wat gehuur was, waarvan hy nie die maandelikse huur geld nie kon bekostig nie vanweë die droogte, sprinkaan plae en mislukte oeste).

Jan van der Wal sterf weens long komplikasies op 15 Junie 1935, en word begrawe op sy plaas Höningnestkrans.

Jan van der Wal  (18/07/1862 - 15/06/1935)

Jan van der Wal met sy kenmerkende blou oë (1924)

Hierdie bladsy handel oor Jan se lewe in Suid-Afrika. Na sy lewe as matroos en sy vrylating as krygsgevange op Bermuda, keer hy terug na Suid-Afrika in 1902/03. Aanvanklik wou die heersende regering onder die heerskappy van Engeland hom nie weer in die Republiek van Transvaal of die Oranje Rivier Kolonie toelaat vanweë sy burgerskap en gevangenskap as krygsgevangene. Hy arriveer per skip vanaf Bermuda in Kaapstad. Hier moes hy in Tafelbaai in afwagting bly totdat hy weer toegelaat is. Moontlik 'n versoek van sy broer Willem Ruurd se kant aan Generaal Jannie Smuts moes hy 'n brief aan die Engelse skryf om Jan weer toe te laat. Die redes wat aangevoer was is onbekend.

Gedurende die oorlog word Jacoba (Jan se voornemende vrou Koba) in een van die talle Engelse konsentrasie kampe aangehou, onder andere op Baberton saam met Willem se vrou Sarie en haar kinders. Nie lank na die oorlog, vestig Jan hom weer in die Ohrigstad omgewing en trou hy later met die jong Koba Lothering, oorspronklik van Krugerspost, uit die distrik Lydenburg. Hulle vestig hulle later op die plaas Höningnestkrans wat vandag nog in familie besit is.

Hier probeer Jan hoofsaaklik met mielies, koring en boontjies boer, maar omdat hy die Suid-Afrikaanse toestande nie goed ken nie, was die boerdery nie juis suksesvol nie. Later begin hy 'n transport besigheid met 'n wa en osse op iemand se aanbeveling, maar weereens het hy probleme ondervind met die osse wat vrek weens die hitte en omgewings toestande, anderste as waaraan hulle gewoond was. Soos reeds genoem is, is die einste wa en osse later opgeëis vir slegte skuld. Die dag moes Jan se vrou Koba hul oudste seun met alle geweld keer, want Ruurd wou uit woede Hans Breytenbach met 'n haelgeweer skiet omdat hy die wa en osse kom opeis het.

Een van die staaltjies wat vertel word, is dat Jan en Willem, Kruger ponde in hulle besit gehad het wat hulle in 'n winkeltjie van Sake se muur versteek het. Op Sake se sterfbed het hy glo die storie aan mense om hom oorvertel. Die volgende dag is 'n paar stene wat verwyder was en 'n leë trommel gevind, maar geen Kruger ponde nie.

Na Jan se afsterwe weens long komplikasies, word hy op sy plaas Höningnestkrans begrawe. Later van tyd trou oorlede Jan se vrou, Koba met Cornelius Andries Oosthuizen. Hy kom woon in by Koba en haar kinders op Höningnestkrans, maar die huwelik hou nie lank nie, en skei in 1947. Koba was 'n uitnemende boervrou wat die pot aan die kook moes hou. Daar was ook uitstaande skuld wat Koba moes aangaan om die plaas te behou, maar elke sent is later van tyd terug betaal.

Koba sterf op 4 Desember 1970 in die Lydenburgse hospitaal, en is langs Jan op Höningnestkrans begrawe.

Kinders wat uit Jan en Koba se huwelik gebore is (eerste generasie in Suid-Afrika):

Huwelik van: Jan van der Wal (18/07/1862 - 15/06/1935) en Koba Lothering (12/09/1892 - 04/12/1970) - gedoop: Jacobus Marthinus Lothering.

Geboorte Naam

Noem Naam

Datum van geboorte

Datum van afsterwe

Ouderdom (jare)

 Plek van graf

1. Aletta Katerina  Letta  21/08/1911  ?    Springs
2. Ruurd Willem  Ruurd  31/05/1914  26/01/1986 72  Plaas Nooitgedacht, Ohrigstad.
3. Hendrika Petronella  Rika / Mies  03/09/1916  20/10/1995 79  Begrawe op Witbank. (langs N4)
4. Magdalena Christina  Lena  20/09/1920  17/07/1994 74  Begrawe op Witbank. (langs N4)
* 5. Jan Hendrik Friso  Jan / Loftie  14/05/1926  09/11/2006 80  Middelburg Suid
* 6. Sake  Sake / Rooi Sake  06/02/1931    N.A.

 

Jan van der Wal en sy gesin, v.l.n.r. (staande) Rika, Letta, persoon is onbekend, Ruurd, Lena (voor Ruurd) voor (sittend) : Jan en sy vrou Koba. Die foto is ongeveer in die jaar 1924 geneem, Jan en Sake was nog nie gebore nie.

Meer oor Koba Lothering (12/09/1892 - 04/12/1970)

Koba Lothering

Koba is op 'n baie jong leeftyd tyd onder die vlek van Willem Ruurd en Sarie geneem. Sy is as te ware deur hulle aangeneem, wat die redes daarvoor was is op hierdie stadium nog nie bekend nie. Vermoedelik in die tydperk toe Willem op Krugerspost skool gegee het, het Koba al by hulle inwoon.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog word Koba op 'n baie jong ouderdom saam met Sarie en haar kinders gevangene geneem op Doornhoek. Terwyl hulle afgevoer word na die Baberton se konsentrasie kamp, gebeur daar 'n voorval by die brug net voordat Lydenburg (vanaf Ohrigstad) ingegaan word, wat Koba lank bygebly het en waaroor sy baie oor gepraat het.

'n Melkkoei wat spesiaal aangehou was vir melk om een van Sarie se kinders (baba) aan die lewe te hou, word summier by hulle afgevat en dood geskiet deur een van die 'joiners' wat diens gedoen het by die blokkade duskant die brug. Hierdie voorval het daarnatoe aanleiding gegee dat die kind later in die konsentrasie kamp in Baberton oorlede is weens wanvoeding. Die persoon wat betrokke was by die afneem van die melkkoei was 'n bekende uit die omgewing waarna 'n bekende bergpas in die omgewing na hom vernoem is. Koba-hulle word op 'n stadium in die Balmoral se konsentrasie kamp ook aangehou voordat hulle vrygelaat word na die oorlog. Terug na die oorlog het die lewe weer voortgegaan op Doornhoek. En dit is hier waar sy vir Jan van der Wal ontmoet het en later in die huwelik met hom verbinding getree het.

Koba en vermoedelik die grootmoeder van Nederland, afgeneem op Doornhoek.

 

Koba bring haar hele lewe deur op die plaas Höningnestkrans saam met haar eggenoot en kinders. Na Jan se afsterwe in 1935, hou sy 'n suksesvolle boerdery aan die gang ten spyte van droogte en plae wat alom eie is aan die omgewing. Later van tyd tree sy weer in die huwelik met Cornelius Andries Oosthuizen, maar hierdie huwelik was van korte duur.

 

Koba en Cornelius Oosthuizen, met van haar kinders, Jan, Rika en Sake afgeneem op Höningnestkrans.

 

Met afloop van die jare het net Koba en haar dogter Rika later agtergebly op Höningnestkrans. Rika het deurentyd na haar moeder omgesien en versorg tot en met haar afsterwe in 1970. Koba is op Höningnestkrans in die familie begraafplaas langs Jan te ruste gelê. Rika het na haar ma se afsterwe na Witbank verhuis waar sy by haar ouer suster Lena ingewoon het tot en met haar dood.

 

 'n Jaar voor Koba se afsterwe. Die foto is geneem voor die plaashuis, op Höningnestkrans (1969). Agter: Koba en haar dogter Rika, voor v.l.n.r. is van Koba se kleinkinders:  Christine, Norman, Friso en Marnus. (Jan en Sake se kinders)

 

Met die afsterwe van Koba, het Sake (jongste lid van die familie) die plaas geërf, en na Sake se aftrede het hy weer op Höningnestkrans kom woon, en nog steeds woon.

 

Jan en Koba, na Bermuda as krygsgevangene.

Hierdie is vermoedelik 'n trou foto van Jan en Koba. Die effek as krygsgevangene kan duidelik aan Jan op die foto gesien word, aangesien hy heelwat gewig verloor het. Die foto is op Doornhoek - plaashuis se stoep geneem.

-Een van die artikels wat Jan gemaak het gedurende sy krygsgevangeneskap op Bermuda: (Foto: geneem in die Lydenburgse Museum)

Die volgende inskripsies is op die voetstuk uitgekerf:  "BERMUDA KRYGSGEVANGENE APRIL 1902"  en  "GEMAAKT DOOR J. VAN DER WAL" die naam Admiraal Tromp is agterop die bootjie geverf.

 

 

* Die enigste twee oorblywende kinders van Jan en Koba: v.l.n.r. Jan (Loftie) en sy broer Sake van der Wal. Foto geneem: 08/01/2003

Die oorspronklike plaashuis op Höningnestkrans, Ohrigstad waar Jan en Koba gewoon het. (1969)

 

Sake van der Wal

Sake is gebore ter Lemsterland - Friesland op 4 Desember 1864. Hy was die "kunstenaar" in die familie, en vele van sy skilderye is vandag nog in VAN DER WAL familielede se besit. Hy was nooit getroud nie, en uit die aard van die het hy nooit kinders gehad nie. Sake het 'n winkeltjie besit waarin hy allerhande goedere handel gedryf het. Hy het glo 'n nooi gehad wat later in 'n brand omgekom het.

Sake van der Wal.

Na Sake se afsterwe word hy in die familie begraafplaas van Willem Ruurd te Doornhoek begrawe.

Sake van der Wal (04/12/1864 - 20/09/1942)

Sake van der Wal.

Sake van der Wal, die jongste broer was nooit getroud soos sy twee ander broers nie. Hy het 'n winkel op Doornhoek besit en was 'n kunstenaar. Sake het aan die einde van 1898 in Suid-Afrika aangekom met die Duitseboot "Herzog". Die bootreis vanaf Holland na sy eindbestemming in Afrika het ongeveer 40 dae geduur langs die ooskus van Afrika. Sake beskryf plekke soos Lisabon, Napels, Portsaid. die Suezkanaal, Aden, die piramiedes in die verte waarlangs die boot gevaar het. Dar es Salaam is ook een van die mooiste ooskus-hawes wat hy op sy reis teen gekom het. In Afrika aangekom sit hy voet aan wal op Delagoabaai (Maputo). Daarvandaan reis hy per nagtrein tot in Machadodorp. Op Machadodorp neem hy 'n koets tot in Lydenburg waar hy verneem dat Willem alreeds 'n week op hom gewag het. Willem het toe reeds weer vertrek.

Gedurende die periode tussen sy aankoms in die Z.A.R. en die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, bestuur hy 'n winkel wat hoofsaaklik meel, koffie, suiker en seep verkoop. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog probeer hy die winkel aan die gang hou, en selfs op 'n stadium gee hy vir die kinders van die omgewing skool, maar dit hou net vir twee maande. Toestande het dramaties begin versleg soos die Boere (blankes) in die omgewing begin pad gee het voor die aankomende Engelse mag. Meeste van die mans word opgekommandeer vir die oorlog, en die vroue en kinders vertrek na veiliger plekke soos Lydenburg.

Met die aankoms van die eerste Engelse soldate in die omgewing, en 'n uitval met die eienaar van die winkel, wat hom bevraagteken oor sy neutraliteit omdat sy twee broers teen hulle veg, asook die 400 sakke mielies wat deur die Z.A.R regering opgekommandeer is uit sy winkel voorraad, breek die einde vir Sake aan as bestuurder van die winkel. Sake word betaal vir tien maande se werk in papier geld (blue bucks) wat op daardie stadium toe nikswerd was. Sake word gelas as 'n "prisoner of war" om op 'n wa te klim wat 'n paar ou mans, vrouens en kinders afvoer na "veiliger" plekke toe. Daar was nie eers plek vir sy persoonlike besittings op die wa nie.

Op Lydenburg aangekom verneem hy dat sy twee broers, Willem en Jan  gevange geneem is op hulle plaas in die bosveld en dat hulle Bermuda toe gestuur word. Hy beland self in die konsentrasiekamp op Middelburg teen sy wil. Alhoewel hy meer vryhede gehad het as van die ander krygsgevangenisse, soos om "duimpas" te ontvang (soos 'n bandiet) om inkopies in die dorp te kon doen, was die lewe nogtans ondraaglik. Hy beskryf die benarde toestande in die konsentrasie kamp, die min kos en min voorrade soos medisyne, ens. asook die jong kinders en vrouens wat sterf.

Hy help selfs om van die doodskiste op die waens te laai onderweg na die begraafplaas. Hy verneem ook per brief dat sy skoonsuster Sarie in Baberton se konsentrasie kamp aangehou word, en dat twee van haar kinders al reeds gesterf het. Na drie maande in die kamp slaag hy daarin (versoek per brief) om oorgeplaas te word na Belfast se konsentrasie kamp. Nog 'n rede was om aansoek te doen sodat sy skoonsuster ook oorgeplaas kon word na Belfast se kamp. Toestande daar was beter en minder sterftes het in hierdie kamp voorgekom. Dit was toegeskryf aan 'n simpatieke Skotse dokter (Dr. Savage) wat moeite gedoen het om na sy pasiënte om te sien.

Toenemende voorvalle rondom Belfast en in die konsentrasie kamp het die lewe van die gevangenisse ernstig begin bedreig, en daar is besluit om van die gevangenisse oor te plaas na Natal. Per trein word hulle via Middelburg, Pretoria na Meerbankkamp en Jacobs in Natal vervoer en dis hier waar Sake gebly tot en met die einde van die Anglo-Boereoorlog. Voor hulle vertrek terug huis toe, maak Sake 'n draai in Durban, vir 'n kort vakansie.

Terug in die bosveld na die oorlog, begin hy met sy eie winkel wat hy vir 'n lang tyd self bedryf het tot en kort voor sy afsterwe. Sake is in die familiebegraafplaas te Doornhoek begrawe.

Gelukkig kon Sake 'n erfenis van skilderye nalaat, en sy liefde vir seilskepe wys duidelik in sy skilderwerke. Daar word ook aangeneem dat die 'ander' houtbootjie deur Sake gemaak is, soortgelyk aan die een wat deur Jan gemaak is, en nou in die Lydenburg museum vertoon word. (sien foto - meer oor Jan van der Wal)

(bogenoemde verhaal van Sake van der Wal is bekom uit 'n 19 bladsy oorgetikte dokument waarvan die oorspronklike handgeskrewe dokument deur Sake self geskryf was, wat nou in Salie van der Wal se besit is. Die opskrif van hierdie dokument heet: HERRINGERINGE UIT DIE BOER OORLOG VAN 'N ROU HOLLANDER).

Hier is van die skilderye wat deur Sake geskilder is: (hier die kunswerke is tans in Buks van der Wal van Ohrigstad se besit)

In familie geledere word daar altyd verwys na die tweede bootjie. Daar is ook meningsverskil oor wie die bootjie nou eintlik gemaak het. Huidiglik word aangeneem dat Sake wel die bootjie gemaak het, totdat meer inligting oor die ontstaan te voorskyn kom.

Hierdie bootjie was op 'n tyd aan die Ohrigstad skool geskenk gewees, maar later van tyd in die skool se stoorkamer deur familielede gevind. Uiteinde van die saak is dat Buks die skool kon oorreed om die bootjie weer terug te gee in familie besit.

 

Home

 

 

 


Niets uit deze website mag worden verveelvoudigd en/of openbaar gemaakt of op andere wijze gebruikt worden zonder voorafgaande schriftelijke toestemming van de samensteller.